Smulweb Blog

Je koekje bij de koffie

POTJIEKOS

n Manier van Lewe

Potjiekosgevoel

"Potjiekos is kuierkos. Dis n vuurtjie en n driepootpot. n Paar stukke vleis, groentetjie, spesrytjie of drie. En n skootjie wyn vir die geur.

Potjiekos is saamweeskos met n paar vriende en n paar bottels wyn. Dis n gemoedelike saamsit, saamgesels en saam doen. Die een skil die aardappels, die ander sny die vleis en nog een krap n paar koletjies onder die pot se pensie. Ander gee raad van die kant af of geniet sommer van die geselskap.

En dan, na n paar uur van stadig prut en van goeie wyntjies drink, word die deksel opgelig. Die geure het nou tot heerlikheid getrou. Die sousie le mooi dik in die pot. Die vleisie voel al lekker sag. Die mense skuif nog n bietjie nader, snuif-snuif die warm walms. En so kry elkeen n beurt met die langlepel om vir hom/haarself te skep. En na die eerste uitroepe van genot is daar n besige stilte van lekkerkry.

Dit is potjiekos!" ....aangehaal uit die boek van Dine van Zyl : Potjiekos.

Die geskiedenis van potjiekos in Suid-Afrika

Die eerste potjies was al gebruik in die ystertydperk toe die mense vir die eerste keer geleer het hoe jy yster kan giet. En wie onthou nie die rituele van die hekse om hulle pot nie. En by die woord potjie sien ek so nog van vroeer die beeld voor my van kannibale wat om n groot pot staan met mense daarin met safari pakke aan en wat gekook word om op geeet te word.

"potjie", uitgespreek; "poi-key" (pot) en "poi-key-cos" (pot kos).

Die potjie, soos ons hom nou ken in SA, het sy oorsprong in oud-Europa. Gedurende die 80- jarige oorlog (1566 -1648) het die spanjaarde vir Leiden omsingel. Die mense was toe so honger dat hulle elke dag alles wat hulle by mekaar kon kry in die potjie gegooi en gekook het. Katvleis, hondevleis en wie weet wat alles is so saam in die potjie gegooi en gestoof. Net om aan die lewe te bly. Dis hutspot genoem. Deesdae kook Hollanders nog hutspot in November, ter herdenking van die beleg van Leiden. (n Modern basiese hutspot in Nederland vandag bestaan uit ui,wortel, aardappels,kruie en vleis)

Die hutspot kom Kaap toe en kry n nuwe naam

Kaap de Goede Hoop (1652)

In die tyd in die Kaap was dit nog nooit nodig om alles wat jy het in een pot te gooi nie; daar was nog altyd kos in oorvloed. Vir die groente het Jan van Riebeeck sommer al van die vroege jare al gesorg. Daar was die vleis eenkant gestowe in vet, die aartappels is lekker bruin gebraai en die groente het elkeen in sy eie kastrolletjie op gestaan. Rys was die stapelvoedsel (deur die vrye handelsroete per see na India ens., was rys volop beskikbaar)

Tog was hutspot baie gemaklik vir mense wat op die pad was. (n bietjie soos n "wegrestaurant" van nou) Die pioniers van Suid-Afrika, die trekboere en die jagters het almal hutspotjie gemaak. Jy kon vuur onder sy pens doen en aan was die kos. En as die wind so bietjie onder die pot deur loer was jou prut sommer klaar. Alles in dieselfde pot en die kruie word sommer uit die veld gehaal. En jy skep sommer net daaruit in jou blikbord. Die driepootpot het aan die voor of agterkant van die voortrekkerswa (langwa), gehang. Baie maklik om dit dan af te haal en op die vuur te sit. Jy het nie te hoef soek vir jou potjie nie. Hy was daar, altyd gereed. En die koffieketeltjie het ook eenkant op die vuur gestaan. (die tv as eetmaat, was nog nie nodig nie met so n film van ongerepte natuur wat voor jou in lig en spel verbygaan het daar voor jou vuurtjie...lag)

Later het die transtportryers, veral met die ontdekking van diamante met baie wagens tussen die Boland(suid-kaap) en Kimberley gesmous, waar die diamante ontdek is. Met brandewyn, rosyntjies, aartappels, soete patats en droe vrugte. Almal gesonde kos. Dit is weer verhandel vir vee, wat die transporters weer vir profeit terug in die Kaap verkoop het. So hulle moes op die pad ook hulle eie kossies bedink. En potjiekos grondstowwe was mos al op hulle wa... om te gebruik. Dikwels het jy dan vir jou n deeg aangemaak en op jou potjiekos gesit, met deksel bo-op. En daar het jy sommer jou potbroodjie ook klaar gehad.(koolhidrate) En met n lekker soutribbetjie uit die pekel daarby was jou potjie gereed tydens die tog.

Louise Coetzee vertel oor haar potjiekos ervaring; "Ek onthou dat my Oupa-hulle ook hul potjie so aan die wa onder gehaak het. Dit was nou deur Duits-Wes en die Kalaharie . Daar was die hoenders ook onder die wa in n hok en n koei of bok vir melk... so het hulle moes leef. Daar was nooit veel groente nie. Die koolhidrate was brood: regte boere-brood met soetsuurdeeg of aartappel suurdeeg.... gebak in n ou miershoop of buite bak-oond. Dit het hulle natuurlik nie gehad as hulle op trek was nie en dan was dit potbrood of roosterkoeke op die vuur. My Oupa het my geleer waar jy kos in die Kalahari kan kry..... meer nog: WATER! Daar is uintjies onder daai sand wat vol water is en jy kan dit uitdruk in jou mond. . Daar is ook ncgabas ( familie van die sampioen) Dit is onder die sand en jy moet mooi weet hoe die barsies bo-op moet lyk om te weet waar hulle is. Natuurlik eet jy dit versigtig dat jou tande nooit op mekaar byt nie want daar is maar sand in... maak nie saak hoe goed jy dit skoon maak nie. Ander goed wat in die potjie was in plaas van groente ( soos ons dit ken ) : Gemsbok komkommer; Witgatboom se wortels; sekere peule. Tsamas ( amper soos waatlemoen) is soos n vrug geeet. As daar geslag is, word als gebruik.... en daai afval moet baie mooi skoon wees! My ouma het eendag gesien hoe maak my ma so n pot op die stoof en sy se toe: " Ag my kind, die mense gaan nou so aan oor die aardigheid en dis al hoe ons kon koskook vir al die jare"

Die woord hutspot het dus later uit gebruik geraak en het "potjiekos", geword. sinoniem met reis en eet.

Potjiekos vandag

die beste potjie:

Om 4-6 mense kos te gee is No. 3 pot groot genoeg. Maar moenie vergeet nie, na die baie wag word die mense baie honger. So koop asseblief n groot genoeg pot. Voor jy die potjie koop moet jy kyk of daar nie n krakie in is nie en of die deksel goed pas. Kyk ook of die handvatsels goed gemaak is dat dit nie sal losraak as jy die potjie van die vuur haal nie.

hoe om jou pot te behandel:

Voordat jy in jou ysterpot kook, moet jy hom eers goed verhit. Daar mag dalk vernis op sit wat die pot beskerm het. Dit moet af. Pak nou n paar stukke spek binne-in en maak goed warm oor die vuur. Laat die vet uitbraai en smeer die binnekant van die pot daarmee. Gooi die vet weg en vryf die pot skoon met papier handdoeke. Jou driepootpot sal nou reg wees om in te kook.

om die pot skoon te hou:

Na gebruik sommer met seepwater uitwas en goed uitspoel en afdroog en dan met n laag kookolie invryf teen roes.

n lekker vuurtjie:

Potjiekos kan jy die beste buite oor n "koel oop" vuur klaarmaak. Maar n mens kan ook houtskool gebruik in die plek van hout. (selfs ook op die braaivleisrooster as dit nie anders kan nie) As jou pot eenmaal goed warm is, is maar n stompie of takkie of so nodig om jou potjie goed te laat aanstap. Hulle se as jy so 2 meter van die potjie staan moet jy hom baie saggies hoor praat. Dan weet jy dat hy nie te hard of te sag opstaan nie.

hulpdingetjies:

Jy het jou pot, jy het jou vuurtjie. Sorg ook nou dat jy n hout snyplank en skerp mes het. Die groentetjies word sommer daar buite so in die pot gekerf... Verder het jy dik vatlappe of n dik stok nodig om die pot van die vuur te lig. En dan het jy natuurlik ook n lang opskeplepel nodig. Hoe langer hoe beter.

hoeveel eet die mense?

Potjiekos neem lank om ordentlik gaar te word. n Vleispotjie neem van 3-8 uur. n Hoenderpotjie so 2-3 uur. En n vispotjie neem so n uur.

Intussen drink jy en jou vriende. Daarom moet n mens sorg dat jy vir elkeen n peuselkossie gee terwyl die potjie prut. Jy het mos n vuurtjie so jy kan net sowel hier aan die kant n skaap of varkribbetjie braai. En wat nie vooraf op-geeet word nie, kan later sommer by die potjie gedoen word vir die smaak. Of n lewertjie in netvet. Dies darem altyd baie lekker! Net so om die ergste honger weg te neem. Anders is almal gaar voor die ete gaar is. As mense so sien hoe die potjie stap, word die honger mos groot. Die mense eet meer as gewoontlik. Daarom is die mees belangrikste reel van potjiekos; maak genoeg! En as daar oor is, is dit nie n ramp nie, want die tweede dag smaak die potjie nog lekkerder. (volgens Suid-Afrikaanse standaarde moet:) 300g vleis met been per persoon gebruik word. Sonder been 200g vleis.

Hoe om potjiekos te maak

Daar is nou potjies waar jy die vleis eers aanbraai en dan is daar potjies wat sommer so van die begin af as kookpotjie behandel word.

Kry al jou bestanddele en gereedskap by mekaar. Maak jou vuur. Sit die driepoot-pot eenkant van die vuur en krap n paar kooltjies onder sy pens. Gooi n lekker klont botter of vet in die potjie. Dan ook n bietjie olie om te keer dat die vet aanbrand. Verseel nou die vleis deur dit aan te bak. Neem nou n hele paar gekapte uie. Uie gee baie keer die spesiaal lekker smaak aan die potjie en dis ook nog gesond. Braai nou die uie en die vleis saam totdat die uie lig gaan kleur. Jy kan nou ook n stukkie knoffel byvoeg en die geheel bietjie laat smoor. En dan moet jy dit n keer goed omroer met n baie lank houtlepel. Speserye soos wonderpeper(pimentkorrels), kruidnaeltjies en pynappel se geur word ook beter vrygestel as dit ook eers bietjie gebraai word. Dan laat jy die potjie so n uurtjie smoor. Doen daar vloeistof by as dit droog wil kook. Daarna pak jy jou groentetjies bo-op die vleis met al die kruies en speserye wat jy gaan gebruik en gooi so lanks die kant water en wyn in die pot. Bietjie vir bietjie, sodat die vloeistof nie te koud word nie. Anders word die vleis mos taai as hy skrik. Ook is koue vloeistof sleg vir die pot as jy dit so in n warm pot sal gooi. Krap nou weer van die kole onder jou pot se pensie uit , want die potjie moet stadig aantik.

Omdat n mens goedkoper snitte vleis gebruik is dit baie belangrik dat die vleis baie stadig gaar word. Kyk af en toe of daar nog genoeg vog in die potjie is. Anders gooi jy sommer n skuitjie wyn van die tafel af by die kos.

En as daar nou iemand met so n engelse konsertina boere musiek sit te speel, raak die atmosfeer gesellig en die wyntjie praat sy ding. En dan weet ons, daai vuurtjie praat sy taal en dis ons taal ook. Die taal van "Potjiekos!"

Nog n paar belangrike wenke om n goeie potjie te maak;

- Laat die potjie vir so 3 na 5 minute (afhangende van die hitte van die vuur) op die vlamme staan voordat jy enige bestanddele daarin plaas. Plaas hierna die vleis en ander bestanddele in, terwyl die pot en vlamme nog lekker warm is. So word die vleis lekker bruin.

- As die pot aangebrand het, moet dit nooit roer nie. Daar is nie veel wat jy kan doen nie! Moet nooit water bygooi nie. Skep eerder van bo af en geniet wat te redde is.

- Twee potte is beter as een.

- Kole moet lank en egalig smeul dat die potjie lekker kan aanstap, terwyl diepe gesprekke gevoer word.

Hoe sal n mens nou potjiekos in Nederland kan toepas

n Swaar stoofkastrol van gietyster sal ook as potjie gebruik kan word. En dan kan die kos dieselfde manier gaar gemaak word deur die pot op die rooster van die BBQ te doen met kole onder die pot. Of sommer n ligte vuurtjie wat jy so nou en dan aandag gee dat die potjie goed bly prut. Dit alles as die weer dit buite in Holland dit toelaat. Anders kan dit ook op die gas binne, maar dan mis n mens darem die atmosfeer van die vuur en rook en voeltjie wat fluit.Boontjie-potjie

Bestandele

- 1+1/2 kg vet skaaprib, opgekap

- 2 e vet - 2 e kookolie

- 4 fijngekapte uie - e zout

- 250g droe boontjies oornag geweek en gedreineer

- 1 kg groenboontjies gekerf(kan ook uit diepvries)

- 4 kruidnaeltjies

- 1 klein rooipepertjie(rissie) fijn gekap

- takkie roosmaryn

- 1 e suiker - 250ml water

- 250ml witwyn

- 1 e varsgemale swart peper

- so 1/4 t nuutmuskaat vars geraper

- sap van n suurlemoen(citroen)

Metode

-braai skaaprib eers n rukkie in vet en olie

-voeg nou die uie by en smoor dit met die vleis

-doen die helf van die sout daaroor en meng dit goed

-nou word die droe boontjies en die gekerfte groene boontjies daaroor verdeel met die laaste sout en die kruidnaeltjie, die suiker, rooirissie en takkie roosmaryn

-sit die deksel op die pot en prut vir 2+1/2-3 uur ten minste

-nou lig jy die deksel van die pan maal lekker baie swartpeper daaroor, rasper die neutmuskaat daaroor en verdeel die suurlemoensap daaroor -meng liggies

Tip: gereed om die potjie op te skep...... ek doen dan ook soms aartappels daarby n uur voor die tyd en skep dit op n bodempie rys onder in die bord.

Pasta pot met beesbiltong

Bestandele:

- 1.5 kg skelpies makaronie

- 1 kg gekerfde biltong

- 750 g suurroom

- 12 groot uie

- 6 groen en rooi pepers(paprikas) in stukkies

- 5 blokkies hoender bouillon - 5 e gemende groen kruide (oregano,roosmaryn, dragon,tiemmie,salie,suurlemoen milisse ens...)

- 4 huisies knoffel fyn

- 500 g champignons in plakkies

- 6-8 t tamatiepuree -(pasta)

- 1.5 kg gerasper oue kaas -

Metode:

-Fruit ui,knoffel en paprika in potjie totdat dit deurskynend is.

- Doen die tamatiepuree by en meng goed.

- Doen nou 3 liter kookwater,die bouillonblokkies,groen kruie en makaronie by en kook die geheel vir 30-45 minute.

- Voeg nou die suurroom en champignons by en kook verder vir 5 minute.

- Doen nou die biltong en kaas by en meng goed.

-laat verder een uur aanstappen in potjie.

Stoofpotjie van Varkvleis en Boerewors

Bestandele:

- 600 g in geskilde aardappels in stukke gesny

- 1 1/2 t sout

- 3/4 t peper

- 200 - 250 g pan klaar groen kool of witkool

- 3 wortels in stukke gesny

- 3 selderie stele in stukkies gesny

- 3 middelgroot uie in halwe ringe gesny

- 300 g boerewors of ander neutrale wors

- 500 g varkrib(spare ribs) of lamskouer

- 2 t aromat

- 1/4 t tiemmie

- 1/4 t sweet basel

- 3-4 etl olie

Metode:

-Kook aardappels in weinig water met wat sout en peper. 5-10 min.

-Bak die vleis bruin in die olie en haal uit die potjie.

-Bak nou die uie goed bruin en knappig en haal ook uit potjie

-Le nou op die aardappels eers dan kool,dan wortels en dan seldery terwyl dit elke keer met basel,sout,peper,aromat en tiemmie besrooi word.Hou kruie oor vir bo-op. Le nou die vleis en wors bo-op alles en doen die gebakke uie daar bo-op. Strooi die laaste kruie oor alles en vul aan met n klein bietjie water.Onthou dat die groente ook vog loslaat. Hoe meer water jy toevoeg hoe meer word dit n sop.

-Doen die deksel op die pan en laat vir drie uur so teen die kook aan sit.

Tip: Hoe langer die gereg opstaan,hoe lekkerder word dit.Ek maak dit altyd n dag van te vore om die smake goed te kan meng. (In SA sou die kool met waterblommetjies vervang kan word)

Kerriepotjie

Bestandele:

1 kg skaap- of lamsvleis in blokkies gesny

- kookolie

- 1 knoffelhuisie geskil en gekap

- 5 ml koljander

- 6 heel naeltjies(kruidnagel)

- 1 klein blikkie tamatiepasta

- 10 ml bruin asyn

- 25 ml blatjang(chutney)

- sout na smaak

- 2 uie geskil en in ringe gesny

- 5 ml borrie(geelwortel)

- 15 ml kerriepoeier

- 1 stukkie heel pypkaneel(ananas)

- 5 ml fyn jeera (komijn)

- 250 ml appelkooskonfyt

- 25 ml suiker 1 groen rissie(groene peper) pitjies verwyder en skil gekap

- 250 g gedroogde appelkose in n bietjie water geweek

- 5 ml fyngedrukte groen gemmer

- 1 groen soetrissie (paprika) pitte verwyder en gekap

- 250 ml karringmelk of Bulgaarse jogurt

Metode:

-Braai die vleis in die olie. Voeg sout by, voeg dan uie en knoffel by, laat effens bruin word, en voeg dan al die ander bestanddele, behalwe konfyt, blatjang en karringmelk of jugurt by. Prut stadig vir 2.5 ure of tot die vleis sag is. Voeg dan ander bestanddele by. Voeg nog sout by indien jy sou verkies.

Tip:Bedien met gekookte rys of net so met gekapte tamatie en uie.

Seekospotjie

Bestandele:

2 e boter

- 2 e olijfolie

- 2 ui fyn

- 2 knoffelhuisies fyn

- 1 t growwe sout

- 3 kardamomsaaidjies gekneus

- stukkie pypkaneel

- 2 laurierblare

- 2 takkies bladselderie

- 2 takkies tiemmie

- 2 takkies oreganum 1/2 kop gekapte peterselie

- 2 rissies(rode pepers) fijn

- half bottel droe witwyn - 30g tamatiepasta(puree)

- 2 e suiker

- 2 e massala(kerrie-tipe)

- 1 rou kreef

- 4 vismooitjies

- 4 dosyn swartmossels

Metode:

Voorbereiding: Die swartmossels: Was die mossels goed in koud water en gooi die mossels weg wat nie heeltemal dig sluit nie. Die kreef: Breek die kreef se stert van die kop af. Sny in die lengte van die onderkant van die stertdop. Haal die vleis uit. Trek die blou stringetjie uit en gooi dit weg. Sny vleis in blokjies. Die vis: Sorg dat die vis heeltemal graad vry is en sny dit in stukkies van 2.5 x 2.5cm

Bereiding:

-verhit boter met okijfolie in potjie

-braai die uie goudbruin -kneus knoffel met die growwe sout en fruit saam met uie

-voeg nou die ander speserye toe en fruit n rukkie om die geure vry te stel

-voeg nou wyn, tamatiepasta, suiker en massala by

-sit kreef met pote en al in potjie

-skep die kreefstukjie by

-skep nou die stukkies vis in die potjie

-sit die swartemossels bo-oor -sit die deksel op die pot en laat dit n half uur saggies prut

-lig die deksel van pot en laat nog n paar minute prut om die voeistof te verminder en die geure te kondenseer

Serveertips: Skep op dat almal n stukkie vis, n stukkie kreef en n paar mossels kry. Skep sous daaroor en eet met n lekker stuk tuisgebakte potbrood.

Potbrood

Bestandele:

- 500g bruismeel(zelfrijzende bakmeel)

- 1 pakkie beesstertsopoeier(oxtail)

- 1ml sout

- 1ml rissiepeper(groene peper)

- 125ml gerasperde Cheddarkaas

- 500ml karringmelk

Metode:

Meng al die bestanddele en skep in ?n gesmeerde platboompotjie of in ?n gesmeerde broodpannetjie. Bak sowat 1 uur tussen die kole of 45 minute in ?n oond by 180?C.

Tip: Vervang die beesstertsoppoeier met bruin uiesoppoeier. Vervang die rissiepeper, kaas en karringmelk met 1 blikkie bier.

Sien ook my artikel: Braaivleis in suid-afrika

Home Recepten